Witgoud en Wonderwerke
- Marcel Versfeld
- Jul 22
- 1 min read
Dis die jaarlikse Algemene Vergadering. Jy weet, daai een waar almal so ernstig lyk, maar eintlik net wag vir die koek en koffie tussen sessies. Marcel is die skriba — pen in die een hand, notaboek in die ander, en sweet op die voorkop. Dis ’n dol dag.
Tussen sessie twee en drie voel hy daai bekende draai in die maag. “Ek het net vyf minute,” mompel hy en hardloop badkamer toe soos ’n man op ’n sending.
Maar toe hy daar kom... ramp! Geen toiletpapier nie. Nie ’n stukkie nie. Nie eers ’n kartonrolletjie om sy hoop aan te hang nie.
“Dis ’n reuse probleem,” fluister hy dramaties. “Ek’s vasgevang in ’n witgoud-noodtoestand.”
Hy gryp sy foon. WhatsApp John. Hy sal my red.
“Broer, ek’t jou nou baie nodig. Bring asseblief toiletpapier. Dis dringend.”
Geen blou tikkie. Geen antwoord. Net stilte.
Hy stuur weer.
“John. Aarde. Ek’t jou nou baie nodig. Help my asseblief!”
Nog steeds niks. Die klok tik. Die volgende sessie begin oor drie minute. Marcel begin bid. Letterlik.
Toe dink hy: Ek sal maar moet bel.
Die foon lui. En toe... kan jy dit glo... langs hom, in die hokkie, antwoord John die oproep.
“Hallo?” sê John.
“JOHN?! Is dit JY?!”
’n Oomblik van stilte. Dan bars hulle albei uit van die lag. Die ironie. Die tydsberekening. Die broederskap van nood.
Dis soos ’n engel van bo – daar skuif’n rolletjie witgoud onder die afskorting deur.
Stil.
Heilig.
Salig.
Marcel sug diep. “Wat ’n groooot verligting.”



Comments