Afrikaans en Engels
- Marcel Versfeld
- Jul 4, 2023
- 5 min read
Updated: Aug 5, 2023
As my “airtime” opraak
Deur Marcel Versfeld
Afrikaans en Engels werk nie altyd lekker saam nie. Ons Afrikaners probeer regtig hard om die Engelse taal te besig, maar soms raak dit ‘n hele deurmekaar spulletjie, of soos ek iemand hoor sê het: “My Engelse airtime raak voor die einde van die dag op.”
Hier is drie wilde-woorde-boek stories wat jou sommer lekker sal laat lag. Die eerste “airtime wat opgeraak het”, is aan my oorvertel en ter wille van mense se waardigheid, gebruik ek maar liewer skuilname. Die tweede ene is ook oor vertel en omdat ek hulle ken, gebruik ek ook maar liewer skuilname. Die derde storie is bietjie meer van ‘n mistasting as ‘n Engelse “airtime” uitloop. Geniet dit.
____
Onderhoud
Glenvar is die Bybelskool waar studente van die Afrika Evangeliese Bond in Constantia, Kaapstad, opgelei word. Baie jare gelede was daar die reëling dat daar een week net Afrikaans gepraat moes word en dan om die ander week, moet daar net Engels gepraat word. Op die manier kon studente leer hoe om in albei tale hulleself vir evangelisasie werk voor te berei.
Dit was Engelse week en boonop het sendelinge van die hele land by die koshuis oorgebly vir die jaarlikse konferensie. Jan (skuilnaam) en Hettie (skuilnaam) is studente en was verloof. Jan staan in die ingangsportaal en wag om die eetsaal binne te gaan toe een van die sendelinge belangstellend vir hom vra: “So, where is Hettie today?” Onthou nou net die volgende – in Jan se eie woorde: “Ek kom van die Vrystaat. Daar praat ons nie Ingels Ons besig dit net uit selfverdediging”. En dis net hier waar jy al kon raai dat iemand gaan seerkry.
Met ‘n gestotter en met baie mooi dink, kry Jan dit uit: “Sir, she went for an intercourse”. So ‘n ongemaklike stilte daal daar in die ingangsportaal neer. Die sendeling frons met so ‘n pienk kleur op sy wangetjies en vra verwonderd: “Jan, and you don’t mind?”.
Ai, ai, ai, as Janneman maar net geweet het, sou hy eerder versterkings ingekry het om te probeer verduidelik, maar nee, die Vrystater probeer self weer: “No sir, we really need the money”. Die preutse sendeling se frons is nou sommer ‘n duidelike rooi. Gelukkig snap die man van God waar die vertaling gestruikel het. Hy help Jan ewe beleefd reg met: “I think you mean an interview”. Sela...
________________________
Saal Opening
Susan Botha (skuilnaam) gee skool in die ou Noord Transvaal. By die skool, in een van die sogenaamde tuislande van daardie jare, word daar net Engels gepraat. Die arme skoolhoof het ook seker van die Vrystaat af gekom, of dalk was dit die Noord-Kaap. Susan vertel self verder.
Ons skoolhoof het maar liewer die saal opening en afkondigings aan die meer ter tale kollegas oorgelaat - tot een Vrydag. Dié betrokke Vrydag kondig hy toe in die personeel kamer aan dat hy as skoolhoof dié komende Maandag self die saalopening met afkondigings en al sal behartig. En ja, natuurlik gaan hy dit in Engels doen. “Ek is immers die skoolhoof”, dink hy so by homself. ‘n Paar onderwysers, waaronder sy vrou, kry al klaar so ‘n bode van onheil en “airtime” wat gaan opraak.
Mnr. Skoolhoof benut die naweek en skryf eers die komende Maandag se afkondigings in Afrikaans uit. Hy trek ‘n woordeboek nader en vertaal dit mooi netjies woord vir woord na Engels.
Maandag oggend breek aan. Die kinders staan in netjiese rye in die vierkant en wag vir die aankondiging om die saal binne te gaan. Mnr. Skoolhoof neem die mikrofoon en in sy beste Engels kondig hy aan: “Will the children please start penetrating the saddle from the behind and filling it from the front”.
Niemand roer nie. Dis doodstil in die vierkant. Dis net hier en daar ‘n mossie wat tjirp en dalk het mev. Skoolhoof so ‘n ongemaklike kuggie gegee. Mnr. Skoolhoof vat die mikrofoon stywer vas en probeer weer: “Will the children please start penetrating the saddle from the behind and filling it from the front”.
Die kinders begin ongemaklik rondkyk en hier en daar waag ene dit om te fluister. ‘n Juffrou kriewel haar tone, maar niemand weet wat om te doen nie. Mnr. Skoolhoof probeer nog ‘n keer en bulder dit nou oor die mikrofoon: “Will the children please start penetrating the saddle from the behind and filling it from the front!!!” Uit pure vrees begin die kinders beweeg, maar niemand het ‘n idee wat die aankondiging beteken nie.
Dié aand, toe mev. Skoolhoof se vrou agter hom kom lepellê, snap sy vir die eerste keer wat haar dierbare man probeer doen het. Sy gaan histeries aan die giggel. “O, nou weet ek”, dink sy. Die kinders moes die saal van agter af binne gaan en van voor af volmaak.
________________
Diepe berou
Dis 1986. Ek en Mossie deel ‘n kamer op Glenvar Bybelskool se koshuis. Dis weer daai tyd van die jaar dat al die distrik superintendente van oor die hele Suider Afrika die jaarlikse konferensie kom bywoon. Jy onthou mos my Onderhoud storie.
Net voor slaaptyd lees Mossie vir ons voor uit ‘n boek. Dis heilige oomblikke toe hy die man se getuienis van sy bekering lees. Hy het op ‘n stoel gesit, onder diepe sonde oortuiging gekom en toe op die grond op sy knieë neergeval om sy lewe vir die Here te gee. Ek en Mossie is albei aangegryp en gaan ook op ons knieë om te bid.
Mossie is die senior student en bid eerste. “Here, ek bid dat mense soos dié man van wie ons nou net gelees het ook onder sonde oortuiging sal kom. Ek bid dat mense...” En dis net hier waar dinge skeefloop, want sien, Mossie kon in daardie heilige oomblik nie onthou of die boek gelees het dat die man op die grond, of in die stof geval het nie. ‘n Mengsel van stof en grond klink toe so in sy gebed: “Ek bid dat mense in die stront sal val en tot bekering sal kom.”
Daar langs Mossie se bed op ons knieë, raak dit ongemaklik stil. Met ons koppe in die matras gedruk onder gebed, voel ek hoe die bed begin skud. My ore kan nog nie glo wat ek nou net gehoor het nie. Ek is stom van verbasing, maar ja, ek het reg gehoor. Die bed begin eers so liggies vibreer en toe skakel dit om in ‘n luide geskud, terwyl ons koppe nog in die matras verborge is. Ek waag dit om my oë oop te maak en loer so na my regterkant toe. Net toe kom Mossie se gesig te voorskyn en met heilige erns wys hy vir my vinger toe hy sê: “Jy vertel dit vir niemand nie...”
Sy woorde hang nog soos ‘n stoffie in die koue môrelug, toe ek al by die kamerdeur uitstorm opsoek na ons koshuismaats...
Comments