top of page

Loftus Versfeld en Babapoeier

  • Marcel Versfeld
  • Jan 10, 2023
  • 5 min read

ree

Wat op aarde het Loftus en babapoeier met mekaar te doen? Net mooi niks. Hierdie twee staaltjies is eenvoudig net te goed om waar te wees. As ek nie self die volgende “toevallighede” beleef het nie, sou ek ook gedink het “maar dit kan nie wees nie”.


Dis 2016 en ek en my seun Ruan, stap die spiraal oploop van Loftus se Oos Paviljoen op om ons gebruiklike Bloubulle en Stormers wedstryd te gaan kyk. Ruan is in Pretoria gebore en ek het in die Kaap groot geword. My hoërskool jare was 1981 tot 1985. Dis die jare van Karel du Plessis en sy broers Willie en Michael. Dis die jare van seisoen kaartjies vir skoolkinders reg langs die veld, van parkeer bo by oom Chris Versfeld, my pa se broer, wat teen die berg gebly het. Van afstap stadion toe en dan gaan sit ons in die reën en rugby kyk. Onthou julle die groot letters bo teen die Spoorweg Paviljoen? 1982, 1983, 1984... dit was die Curriebeker wenjare van WP. Ek was daar toe Divan Serfontein sy drie teen die Britse Leeus reg voor ons in die hoekie van die hoofpaviljoen aan die noorde kant gedruk het. Ek was daar toe Naas Botha ‘n streeptrui met sy stywe arm reg voor die pale aan die suid-paviljoen kant geloop het. Ek was daar toe Michael du Plessis met sy heupe teen een of ander Bloubul ingelê het en hom soos ‘n muskiet afgestamp het voor hy sy drie reg voor ons aan die hoofpaviljoen se suidekant gedruk het.


Jare later vat ek vir Ruan saam Nuweland toe. Met sy eie ore het hy die sê-goed van die kleurvolste Nuweland ondersteuners gehoor toe Boby Skinstad ‘n drie druk: “Nai master, daas net een stad en dis ‘n Skinstad” (ek sien nog die uittand man hier agter ons wat Ruan ‘n high five tussen die blaaie gee). En jy wil weet hoekom ek ‘n VeePee man is? O ja, terug by Loftus, 2016...

Ons het hulle seker 17 jaar gelede laas gesien, maar hier kom Karin Basson van voor af aangestap. Ek is verbaas, want die Basson’s was nie rugby mense nie. Ons groet opgewonde, want Andre, Karin se man, en ek, was groot maats. Ons het in my Pretoria-Noord dae wonderlike tye saam spandeer. “Wat maak julle hier?”, vra ek nadat ons gegroet het. “Nee”, sê Karin, “dis Amanda, ons dogter se nuwe kêrel, wat vir ons rugby kaartjie gekoop het en nou is ons maar hier.” “En Andre?”, vra ek. “Is hy ook hier?” “Hy sit reeds op die paviljoen, ek het net gou vir ons iets te drink kom soek”. Ons groet en ek en Ruan stap aan opsoek na ons sitplekke. Ons gaan staan op die paviljoen en kyk rond, dan weer terug na ons kaartjies in hand en dan kyk ons weer rond om te soek waar ons moet gaan sit. Hou in gedagte – Loftus het sitplek vir seker so 52 000 mense... Ons stap in die rigting van ons sitplek en skuif tussen die mense deur. Ons ruik nartjies en bier en ons hoor mense juig. Ons skuifel en buk en skuifel en buk voor hordes mense verby na ons sitplekke. Ek hou my kop laag en maak nie oogkontak met die mense nie, want hulle kyk die “belangrike” voorwedstryd, asof die game nou enigsins saak maak. In my agterkop onthou ek die nartjie van seker so ’79 op Ellis Park wat my liewe Ma met ‘n plof tussen die blaaie getref het. Dit was haar eerste en laaste rugby wedstryd op ‘n paviljoen.


Hier is ons plekke en ek kyk op. In jou lewe... Uit die 52 000 mense, met Andre Basson wat sekerlik nog nooit in sy lewe op Loftus was nie en wat ek ongeveer 17 jaar laas gesien het, sit ek reg langs hom op Loftus Versfeld.


Babapoeier is beslis nie sout nie

Dis 1998. ‘n Klompie van my kollegas is op my skoonpa se plaas. Ons is daar vir ‘n mid-week wegbreek en Jannie Niemand van Vryheid, is ook daar. Ek sal nooit vergeet nie – ons was besig om vanaf die rivier terug plaashuis toe te stap, toe hy die volgende insident vertel.

Hy is in die kar op pad êrens in die Vrystaat en luister radio. Dalk was dit Radio Oranje. Die omroeper bied ‘n kompetisie oor die lug aan vir luisteraars om in te bel. Die vraag is: “Wat is die huishoudelike naam vir natrium chloried?” Mense bel in met allerhande raaiskote totdat ‘n dierbare bejaarde tannie inbel. “Ag ou seun”, begin sy. “Tannie het nog nooit ‘n ou prysie gewen nie. Wil jy nie maar vir ‘n ou tannie bietjie haar dag maak en ‘n leidraadjie of twee gee nie?”, probeer sy die omroeper sag maak. Dis net hier waar dié omroeper ‘n fatale fout maak. “Nou goed my tannie, hier is die leidraad”. Dis iets wat tannie in die oggend oor die oom se eiers gooi”, probeer hy ewe onskuldig die tannie help om darem ook ‘n ou prysie te wen. Die tannie antwoord baie opgewonde en die kraak in haar stem is nou skoonveld, want vandag gaan sy wen: “O jaaaaaa, ek weet. Dis babapoeier!”, roep sy opgewonde uit.


Vir ‘n paar sekondes is dit stil. “Vir ‘n oomblik het ek gewonder of ons sein verloor het?”, vertel Jannie. En daar begin die musiek speel oor die golwe van Radio Oranje. Die een snit na die ander speel en vir die volgende 15 minute is daar nie sprake van enige omroepers op die lug nie. Die klanke van een of ander Afrikaanse liedjie speel nog so in die agtergrond toe die omroeper dit weer waag om te probeer praat. “Mense, verskoon tog asseblief. Hier by ons in die ateljee kan niemand ‘n woord uitkry nie. Ons lag nou al histeries vir die laaste 15 minute en nes een van ons probeer om weer uit te saai, raak ons weer aan die lag”.

Dis maklik 20 jaar later en ek speel muurbal liga wedstryd. Dis Pretoria, dis warm en ons sweet. My spanmaat haal ‘n blik babapoeier uit om muurbalskoene te poeier en natuurlik dink ek terug. Ek begin vertel van die tannie en Radio Oranje. “Nee wag”, stop my spanmaat my en sê: “Kom ek vertel jou presies”. En daar vertel hy my die hele storie tot op ‘n druppel na presies soos dit gebeur het. Ek is stom van verbasing en wonder waar hy dit gehoor het. Nes die omroepers hoes en proes ons van die lag en toe ons tot bedaring kom en ek vra: “Maar hoe weet jy en waar het jy dit gehoor?”, antwoord hy: “My vrou was een van die omroepers in die ateljee dié dag toe dit gebeur het. Ek weet hy praat die waarheid, want sien – sy was op daardie stadium ‘n omroeper by een van die plaaslike radiostasies in Pretoria en ek het haar stem gereeld oor die lug gehoor.

Recent Posts

See All
Afrikaans en Engels

As my “airtime” opraak Deur Marcel Versfeld Afrikaans en Engels werk nie altyd lekker saam nie. Ons Afrikaners probeer regtig hard om die...

 
 
 

Comentarios


worXinu white.png

© 2023 by Michelle Hugo. Proudly created with Wix.com

bottom of page