Wit Water
- Marcel Versfeld
- Jan 14, 2018
- 6 min read
Oupa Pieter was die selfde; ook altyd opsoek na iets nuut. Van stilsit en wag vir iets om te gebeur is daar nie sprake nie. Dis in ons bloed om dinge te maak gebeur. En laat ek jou nou vertel, gebeur is nie sommer van self nie. By my is dit meestal ‘n vinnige ding; iets van staan op in die oggend met ‘n gejeuk vir daai nuwe ding en daar gaat ek; soos oom lang Carel altyd gesê het “spring seun spring, die vlerke sal kom so met die geval onder toe.”
Die jaarlikse uittog uit die binneland see toe en berge toe en vriende toe en familie toe en bos toe is al in sy tweede week. Ek en my Wyfie is plaas toe. Dis net haar pa en ma – Freek en sy gesin is see toe. Willem en sy mense is Kaap toe. Johan en sy mense gaan nog see toe en Deon se mense sit by die huis; is op kers-diens, nuwe jaar diens en sieke diens in Mbombela se hospitale. Hier op “Geskenk-van-God” is dit maar stil die jaar. Die gras is groen, die duiwe pronk en laat middag tingel die tarentale en kwetter die vinke en koer die rivier duiwe en torrel die duiwe voor die stoep waar oupa hulle voer.
Die Vaal kronkel slang-stil ‘n ent van die huis af. Stroom op bruis die wit-water. Freek hulle het so ‘n dag of wat gehengel. Nie eens sy Sarah de Jager kampioen visvanger vrou het die jaar veel gehad om oor te glimlag nie; hier en daar ‘n kleintjie uitgetrek. “Maak jy nie lyn nat nie swaer”? vra hulle elke jaar. My kop spin as hulle dit vra, want ek ken myself. Ek is een van die “laat-dit-gebeur” tipe ouens, eerder as wag-vir-dit-om-te-gebeur tipe mense. Dis sommer net ‘n persoonlikheids-ding die. Party wag en ander pionier goed om te gebeur. “Nee”, antwoord ek vir die 27e jaar agter mekaar. “Ek soek eerder ‘n vis met my pyl as om te wag vir ‘n byt”. Dis my ordentlike antwoord, maar in my kop dink ek, “ek sit eerder en kyk hoe die creepy die swembad probeer skoonhou voor ek hier kom sit en wag vir ‘n karp om te byt”. Net ‘n smaak ding dié ok, niks persoonliks nie hoor. Stroom op sien ek die wit-water en begin dink.
Dis nou al ses dae wat ek sit en luister na rugpyn, maagpyn, knie pyne en enkel pyne. Ek ‘like’ op gesig-boekie ‘n foto van pelle wat langs die rivier kamp. My kop begin werk aan ‘n plan. Bel, sms, teksboodskappe niks werk nie; seker nie konneksie daar by hulle nie. Ek pionier dorp se kant toe, stroom op verby die wit-water en soek; ry sommer reguit tot by Werner en Anneke en wraggies, hier is Francois ook. Hy was eers Kwassie, toe Barry en nou Francois. Ek is nou nog nie seker wat sy regte naam is nie. Dit selfs na ek hom en Ursala so 12 jaar of wat terug in die eg verbind het. Dis die Engelbrecht’s die. Hier weet ek is daar aksie, lewe, dinge wat gebeur. Ons kom mos darem al so amper 40 jaar saam. Werner en Anneke het ook voor my gestaan en twintig jaar terug gesê “I do”. Liewe tannie Anna met haar rugpyne en al is ook daar; het haar eie tent en hink en pink met krukke en al tussen slaap kwartiere, veld kombuis en kuier-tent. Ek ry terug “Geskenk-van-God” toe verby die wit-water en weet…
In ‘n stowwerige stoor, hoog bo teen die muur spoor ek haar op. Sy’s rooi, veselglas en al erg gelap; noem haar sommer Rooi Nooi. Moes seker toe al geweet het, maar nee, die wit-water roep; vlerke sal mos so in die val ontwikkel, of hoe? Ek en Rooi Nooi vat eers so ‘n laat middag oefen lopie. Google-aarde wys die wit-water stroom op so een en ‘n half kilometer van ons af. Links regs, links regs… klap die spaan hier vlak langs my in die water en sommer gou is ek daar. Hier en daar kom die aanmoediging van die wal af “roei hom pappie, roei hom” en ek voel die lewe vloei weer deur my are.
Dis stil, net die geklots van die spaan en die vinke wat kwetter arm lengte van my af in die riete. Ek wens my Wyfie kan dit sien, dit beleef, dit proe, dit in drink. Hoe vertel jy so iets oor? Hoe beskryf jy die prag van son strale wat wit deur grys wolke bokant die Koepel koppies skyn? Die groot-bek geelvis wat langs my borrel bruis breek met stert wat klap en pronk-loer terug in die water?
Ek beur stroom op en dink. Dis mos nou tipies my mense – stroom op; en ek dink aan Trekkers, Nasionaliste, Sappe en Natte en predikante en pastore en kerkrade en diakens en ouderlinge en tesouriere en sekretarisse en lidmate; stroom op mense. Seker maar nes ek.
Die oefen lopie stroom op het net so 45 minute geneem om die een en ‘n half kilometer af te klots. Google sê dis so agt en ‘n halwe kilometer tot by die Engelbrecht ’s. Pionier avonturier opgewondenheid borrel in my are en ek werk uit dat dit stroom af mos nie so erg kan wees oor die paar wit-waters nie. Met ‘n blerts 40 faktor op die voorarms, my bos-hoed op die kop, selfoon in die een sak en ‘n klomp suig-lekkers in die ander, behoort die ekspedisie seker nie te lank te vat nie; of hoe? Dit was toe sommer baie kortstondig…
My Wyfie se wange druk omtrent so teen sewe en ‘n half baar toe sy sien Rooi Nooi is in haar hatch-karretjie gelaai vir die aflaai stroom op. Blaasoppie versigtig kronkel ons met die grondpad langs tot waar ek afklim, Rooi Nooi oor die skouer, bos-hoed op die kop en spaan in die ander hand.
Rooi Nooi steek maar sleg af teen die Engelbrecht ‘s se kajak en deftige see-ski. “Wat wou”, dink ek, “ons groei mos vlerke so in die val”, het oom lang Carel mos gesê en die wit-water roep. Net ‘n klein entjie stroom op om ‘n eiland en toe die salige stroom af en daar gat ons. “Net ‘n tikkie vryheid, dis al wat ek vra”, speel dit in my kop. Hier langs my bou ‘n vink nes en daar voor ons skarrel mev. Geelbek eend en haar kleintjies oor na vyfde rat om die klotsende spane te vermy. Gou, ‘n selfie, want ek sien die wit-water kom nou vinnig nader.
“Hou net links”, hoor ek word daar van voor af geskree. My spaan lyk meer soos ‘n dak-fan op ‘n warm bedompige somer middag in die Laeveld. Rooi Nooi boeg links, maar die wit-water druk regs. Ek onthou nog vaag weg die spaan van een van die Engelbrecht ‘s, ‘n rots met bruisende wit-water en ‘n laaste poging om “links te hou”, en toe is dit te laat. Rooi Nooi ploeg deur ‘n wal water, druk haar neus self voldaan teen daai klip soos ‘n waffers hoopvolle Arktiese ysbreker, lig haar sterre vir die wye wêreld om te sien. Iets flits deur my kop, of was dit nou agterent, van die Zambezi se wit-water saam met Hennie en Arrie so vyf jaar of wat terug. ‘n Mond vol Vaalrivier water, vier en tagtig duisend rotse, maer merrie velle wat waai en my fondasie wat stamp op rots nommer vyf en tagtig duisend ruk my terug uit die Zambezi tot binne in die Vaal. Rooi Nooi se pens is vol Vaal water, ek klou aan my selfoon, sien ‘n blonde kop hier voor my dobber, gryp my bos-hoed, los die spaan; bos-hoed van 41 jaar en selfoon is belangriker. Bo is onder en onder is bo en links en regs is omgeruil en kop is gat en gat is kop. Nou waar’s die vlerke wat so vinnige ontwikkel oom Lang Carel?, dink ek in my verdomde angs al vallende deur die Vaal se wit-water.
Francois, op sy fancy see-ski, is nader as die naaste NSRI tak. Rooi Nooi is klaar op sleep agter fancy Nancy en in kalm waters neem Anneke my lyf op sleep agter haar rooi kajak. Doer, ver agter ons hoor ek die wit-water wat wild woel en wel en ek weet “vanaand is ek in die WARM-WATER”.



Comments