top of page

Wie volg vir wie?

  • Marcel Versfeld
  • Mar 31, 2018
  • 2 min read
Skriflesing: Jeremia 15:12: “Die mense moet jou volg, nie jy vir hulle nie.”

Ek onthou my diensplig dae. Party van ons het dalk so ‘n korporaal gehad wat in opleiding vol bravade was, maar die dag toe ons kontak slaan, was hy nêrens te sien nie – iets soos “storm manne, ek is reg agter julle”. Suid-Afrika soek leiers wat voor loop, wat koers hou, wat die voorbeeld stel, wat ons inspireer en motiveer.

In Jeremia 15 ontdek ons iets van hierdie profeet se rou eerlike stryd wat hy met homself gehad het. Hoor net wat sê hy: “Waarom is daar nie ‘n einde aan my pyn nie, waarom is my wond ongeneeslik en wil dit nie gesond word nie? Ek kan nie op u reken nie…” (:18). Jy het ook al so gevoel; dalk is dit hoe jy op die oomblik voel. Jy sal dit nog waag om te vra hoekom dinge met jou gebeur wat nou gebeur, maar het jy al so ver soos Jeremia gegaan en gesê “ek kan nie op u reken nie”?


Ons eerste reaksie is dat dit darem te erg is. “Nou het jy die grenslyn oorgesteek Jeremia – nou is daar nie meer genade vir jou nie.” Dit is hoe ek in 2002 gevoel het en dit is presies wat ek vir God gesê het. Ek het my werk, my huis en alles wat bekend is in een dag verloor. Hoe herstel jy, staan jy op en kry weer koers na so ‘n krisis?


God gee die antwoord in vers 19. “As jy jou woorde terugneem….as wat jy sê nie onsin sal wees nie. Die mense moet jou volg, nie jy vir hulle nie.” Dit is duidelik dat God se genade groter is as selfs die onsin wat ons kwytraak. God loop voor. Hy was al waar jy nog moet kom. Hy weet hoe lyk die roete. Volg sy voorbeeld, loop voor, staan op en wys vir ander mense waarheen om te gaan. Jy is die beste man vir jou vrou, pa vir jou kinders en werker wat daar is. Mense om jou soek iemand soos jy wat sal voor loop.


Gebed – “Vader, dankie dat u genade groter is as my swakhede. Ek trek vandag dit wat ek oor u gedink en gesê het terug. Ek kan op u staat maak – u is betroubaar. Ek kies om voor te loop. Help my om die leier te wees wat u my geroep het om te wees. Ek bid dit in die Naam van Jesus.

Comments


worXinu white.png

© 2023 by Michelle Hugo. Proudly created with Wix.com

bottom of page