Ander mense het ook ‘n binneste
- Marcel Versfeld
- Mar 31, 2018
- 2 min read

Dis 2003, hoog bo in die berg bokant die waterval op Johan se plaas naby Vanrhynsdorp. Ek is verskriklik dors en klim in ‘n diep skeur af om water te drink. Die krans-klouter terug uit die skeur uit verloop goed. Op die boonste randjie trek ek myself aan ‘n graspol oor die krans rant en toe…
…val ek agteroor. Als voel so stadig. So asof die regisseur die film in super-stadige spoed terugspeel. “Ek sterf, dis verby” flits dit deur my kop. Takke klap kraak en breek soos ek deur ‘n boom 15 meer ver na onder val. Een laaste tak skeur deur my broek, vel, spiere en bloed en ek hang met my kop sentimeters bo die klipbank langs die rivier. Ek voel nie eers die pyn nie – al wat ek onthou is my binneste wat uitdop die oomblik toe die graspol meegee.
Jesus het hulle “innig jammer” gekry. Die Griekse woord vir innig is SPLANGA en verwys na die ingewande. Met ander woorde Hy het hulle uit sy binneste jammer gekry. Dit is wat empatie anders maak as simpatie. Jy voel vir ander mense uit jou binneste en raak betrokke by hulle pyn. Hoe lyk die seer van ander mense? Wat voel jy wanneer jy dit raak sien? Wat kan jy doen om betrokke te raak?
Jesus het tussen mense geleef en by hulle lewe betrokke geraak. Ek en jy leef ook elke dag tussen mense, maar om een of ander rede is ons baie versigtig om betrokke te raak. Kom ons kyk met ander oë na ons bure, na kollegas saam met wie ons werk, na vriende en selfs na vreemdelinge wat by ons verby skuur in die straat.
Skrif – Markus 6:34: “Hy het hulle innig jammer gekry, want hulle was soos skape wat nie ‘n wagter het nie”.
Gebed – “Vader, help my om soos Jesus die seer van ander mense om my raak te sien. Ek wil hulle help. Wys my wat om te doen. Ek bid dit in Jesus se Naam.”



Comments