Put your past in your behind
- Marcel Versfeld
- Mar 31, 2018
- 2 min read
Updated: Jul 12, 2021
Filippense 3:15: “Ons almal wat geestelik volwasse is, moet hierdie gesindheid hê.”
In die animasie film Lion King is daar ‘n klasieke oomblik. Die jong Simba is baie moedeloos oor sy donker verlede en wens dat hy dit kan verander. Pumba, die vlakvark probeer raad gee, maar maak ‘n flater daarvan toe hy die verkeerde woord orde gebruik en sê: “You got to put your behind in your past.” Timon, die meerkat, help hom as volg reg: “No, no, no you amateur, lie down, before you hurt yourself. It’s you got to put your past behind you.”
Volgens Filippense 3:14 is geestelike volwassenheid ‘n gesindheid. Vers 13 verklaar wat ”hierdie gesindheid” is, naamlik “ek maak my los van wat agter is”, of dan in Timon se woorde “you got to put your past behind your.”
Elkeen van ons het ‘n verlede. Elkeen van ons het ‘n storie en nie alles in ons storie is juis iets wat ons vir ander mense wil oorvertel nie. As jy oor jou lewe terugkyk, sien jy die letsels. Dit is dié letsels wat jou gehelp het om lewens lesse te leer en nie weer dieselfde fout te maak nie. Dalk is daar hier en daar nog iets in jou lewe wat jou terughou om in jou ideale toekoms in te stap. Die wonder daarvan is dat God se vergifnis alles omvattend en oombliklik is. Gee dit vir hom, aanvaar die waarheid dat Hy jou vrymaak en “maak jou los van wat agter is.”
MAAR, elkeen van ons het ‘n toekoms. In dieselfde vers 13 staan daar “ek strek my uit na wat voor is.” Paulus, wat hierdie verse skryf, sien uit na die wenstreep en hemelse prys. Die toekoms waarna jy kan uitsien is nie net die hemel nie, maar alles waarna jy kan uitsien vandag, more en in die jare wat voorlê. Begin dit geniet en kies vandag om jou los te maak van wat agter is.
Gebed: “Vader, ek gee alles wat in die verlede gebeur het nou vir u. Ek maak my los van wat agter is en “ek strek my uit na wat voor is”. Ek bid dit in die Naam van Jesus. Amen.”
Comments