top of page

Skaapvleis is lekker

  • Marcel Versfeld
  • Mar 31, 2018
  • 2 min read

ree
Gert Basson – Liefling seun van die Sandrivier

Gert boer skaap en soos baie mense van Namakwaland, het hulle oorgenoeg vleis. Die manne daar eet net groente om hulle ma en vroue tevrede te stel. Hoendervleis is groente. As die dokter sê hulle moet meer witvleis eet, sny hulle daai stukkie wit-vet aan die buitekant van die skaap tjoppie af en eet dit. Daarvan eet jy sommer baie; dit laat die kolostrol (soos hulle dit noem) die binne wand van die are mooi smeer, “dan kan die bloedklonte nie vassit nie”, sê hulle. ‘n Berg vleis lê op die rooster en sis en ek vra “nou wie kom nog almal Gert”. “Nee”, sê Gert, “dis net ons”. Gert hou van skaapvleis, maar kan jy dit glo – hy ry dorp toe en koop by die slaghuis, want “ek kan mos nie my eie skaap eet nie”, sê Gert.


In Esegiël 34 praat God met die herders wat Hy aangestel het om sy mense te versorg. In plaas daarvan drink hulle melk, maak klere van die wol en slag die vetste skape, maar sorg nie vir die skape nie. Hulle help nie die siekes nie, versorg nie die wonde van die wat seergekry het nie en bring nie dié terug wat weggedwaal het nie. Die skape is verstrooi en het die prooi van roofdiere geword, “niemand het hulle gesoek, of na hulle gevra nie” (:6).


God is die Opper Herder (1 Petrus 5) en Jesus is die Goeie Herder (Johannes 10). Jy is ook ‘n herder en jy het skape. Jou vrou, kinders, werknemers, dalk die bure en ander familie lede is aan jou toevertrou om te versorg. Wat het hulle nodig? Versorg en voed jy hulle? Bel vandag daai een familie lid wat weggedwaal het. Spreek seën oor jou kinders. Stuur ‘n opbouende teks boodskap vir jou kollega wat jou so opvryf by die werk. Nooi die bure vir ‘n braai en wys so vir die mense om jou hoe die Goeie Herder oor hulle voel.


Skrif – Esegiël 34:2: “Ellende wag vir die herders wat net vir hulleself sorg.”


Gebed – “Opper Herder, u sorg en u liefde vir my hou net nooit op nie. Help my vandag om die voorbeeld van die Goeie Herder te volg. Ek kies vandag om die skape wat u aan my toevertrou, na die beste van my vermoë te versorg. Ek bid dit in Jesus se Naam.

Comments


worXinu white.png

© 2023 by Michelle Hugo. Proudly created with Wix.com

bottom of page