Roofie-Ride
- Marcel Versfeld
- Aug 3, 2019
- 3 min read
(as jy nie weet wat ‘n “roofie-ride”is nie, vra iemand wat diensplig gedoen het. Die wat daarna nog bly leef het, sal jou vertel.)
“Nee meneer, ons laai julle sommer by die huis op”, sê Esmarelda aan die anderkant van die lyn. Dit klink te goed om waar te wees? Moes seker toe al geweet het – as dit te goed is om waar te wees, dan is dit nie so goed nie!
Een uur in die oggend is die buurt is graf-stil. Doer in die verte hoor ons net die toonhoogte van die bussie wat skreeuend nader storm en eers verby woerts, rooi ligte, remme wat skree, omdraai en daar staan dit – ‘n Rofie-Ride soos in my army dae. Soos hoërskool vryers spring ons in en gaan sit heel agter; fout nommer twee van honderde wat sou volg. “Kyk Liefie, die hele bank vir onsself”, dink ek, maar min het ons geweet…
Dis so net voor een in die oggend en ek verstaan glad nie waarom ons verwagte aankom tyd in Vanrhynsdorp 8vm is nie. Ek ken mos die pad Noord op die N7, dis presies drie ure se ry. Waar kom die mense aan sewe ure? Iets maak glad nie vir my sin nie.
Angelo van Ferreira’s transport trek die Mercedes Transporter weg dat Liefie se nekkie soos oorlede tannie Annie s’n ruk. Tannie Annie was maar bietjie broserig die jare toe ons haar vir Sondag dienste opgelaai het. Haar knik-koppie het my laat dink aan daai fluweel leeutjies agter in Pa se groen 1976 Audi 100 wat so knik-knik oral waar jy ry.
Die laaste plekke wat ek nog herken het, was Bellville en toe ‘n huis in Goodwood. Van daar af was dit net ‘n dowwe herinnering. Dis ratte, en brieke, en hobbels en ‘n geskud agter in die Rofie-Ride. Dit het gelyk soos In-die-Elsies wat verby flits, toe êrens in Pinelands, Phillipi en ek dink dit moes Grassy Park gewees het, want in die mistige duisternis het iets verby gebruis wat soos die Flats se see sand. Ons stop, laai mense op, ruk weg, briek vir ‘n hond, storm oor ‘n spoed-hobbel en dan tussen nou gangetjies en stegies deur. Al wat ek hoop is dat ons nie vannag deur een of ander snuif Gangster van die Kaapse Vlaktes ontvoer word nie.
Teen hoender-kraai tyd skud my kop en wil my binneste braak van die “motion sickness”. “As ons nie nou ‘n toilet kry nie, bars ek”, voeg Liefie hier al skuttende en vallende van die kant af in. ‘n Passasier se Ma, met curlers in die hare en ‘n goedkoop sigaret moet net kant toe staan toe Liefie verby storm en halfpad in die huis in eers hoor “dis reg, gebruik die latrine, die flatt is klein genoeg.”
Die oop pad verby Malmesbury en Piketberg gee darem so kansie vir asemskep. Teen Piekenierskloof Pas roep ons binneste ten hemele dat een of ander trok ons tog net nie voor ons vervaldatums daarheen sal stuur nie. Rondeberg se koel dam regs gee my hoop dat ons dit sal maak. Klawer is mos nie te ver nie en dan net oor die bult sal Vanrhynsdorp sy opwagting maak. Nog een laaste kinkel in die Rofie-Ride is toe ons links draai Klawer se ingewande in. Hoenders fladder, kênners word uit die pad geruk en teen die tyd hoor ek hoe grawe dit yster teen yster hier onder my as daar briek getrap word.
My buitekant brom in Afrikaans, maar binne in my kop flits allerhande vier letter woorde toe ons nog eers deurdruk Vre-endal toe. Eers Vre-endal Noord voor ons die kronkels deur is en die lang kners-vlakte pad voor ons lê. Maskamberg staan punt hoog skuins regs voor toe ons Vanrhynsdorp in trek.
Verlig dat ons lewe, klim ons uit. Ek druk en soengroet omtrent vir Gert Basson toe die Rofie Ride weg spoed op pad Nuwerus se kant toe. “Liefie, ek gee liewer ‘n paar rand meer vir ‘n ander Ferreira van die Inter Kaap span. By die huis, tel niemand my weer op nie.”
Comments