top of page

Leef met ‘n huppel in jou stappie

  • Marcel Versfeld
  • Mar 31, 2018
  • 2 min read
Hebreërs 12:12-13: “Versterk daarom die slap hande en lam knieë en loop die reguit pad.”

Hier is ‘n tipiese lysie van wat mense se “hande slap en hulle knieë lam” kan maak:

  • Finansies – daai klip wat jou motor se voorruit kraak en die bybetaling wat jy moet betaal waarvoor jy nie begroot het nie.

  • Politiek – dié een maak die meeste van ons sommer rooi onder die kraag.

  • Sport – die Bokke se onbeholpe vertoning week na week, dit terwyl jy weet daar is soveel meer talent en potensiaal.

  • Gesin – wanneer iets skeef loop in jou vrou of kinders se lewe, krap dit sommer gou jou planne deurmekaar.

Dalk is jou lysie sommer baie langer. Daar is so baie wat in jou lewe gebeur wat jou wiele net pap maak. Die Hebreër skrywer skryf hierdie vers in die konteks van dissipline. Sommige van die goed wat met jou gebeur, dra daartoe by om jou gedrag te korrigeer. Op daardie oomblik voel dit soos iets om oor te huil (Heb.12:11). Wanneer jou kwaad en pyn bedaar, sien jy dat dit jou gevorm het; dat dit eintlik “’n goeie vrug” was.


Ek wonder of daar nie te veel van ons as Christene is wat met ons “slap hande en lam knieë” dit laat lyk of ons Christenskap ‘n sware las is nie. Ander kyk na ons en dink “sjoe, dit lyk darem na ‘n hartseer spulletjie daai. Bly liewer weg van daai klomp Christene af.” Juis daarom sê die eerste deel van die vers dat ons die knieë en hande moet versterk. Of dan in my eie woorde, “kry weer ‘n huppel in jou stappie”.


‘n Ander Afrikaanse vertaling stel dit so – “Wees entoesiasties oor wat julle as Christene doen”. Slap hande en lam knieë veroorsaak dat jy met ‘n kronkel pad loop. Iemand met gesonde knieë kan reguit loop. Wanneer jy so loop, is jy entoesiasties, gemotiveer en leef jy met fokus. Jy is ‘n goeie advertensie vir die mense om jou wat mense na Jesus toe sal aantrek, eerder as om hulle af te stoot.



Gebed:

“Vader, dankie dat u my so liefhet dat u die beste vir my lewe in gedagte het. Dankie vir die goeie gevolge na alles wat al met my gebeur het. Ek kies vandag om met ‘n huppel in my stappie te lewe. Ek bid dit in Jesus se Naam. Amen.”

Comments


worXinu white.png

© 2023 by Michelle Hugo. Proudly created with Wix.com

bottom of page