Haai daar...
- Marcel Versfeld
- Feb 24, 2022
- 6 min read

My swaer Swannie dink ek is mal. My vrou wil glad nie saam gaan nie en my kinders het my maak belowe om dit nooit weer alleen te doen nie. Ek het al hoeveel keer vir Swannie verduidelik hoe dit werk, maar hy hou aan vra: “So, wat maak jy as jy dan nou een raak swem?” Dan antwoord ek: “Ek hou my oog op hom en bid hy is nie banger as ek nie.” Dan sê Swannie weer: “Jy is mal man.”
Dan verduidelik ek dit weer so bietjie anders. Ek sê, “Swannie, as jy daar uit Minnebron ry op pad Carnaval City toe, dan is daar mos baie taxis, of hoe? Nou sien Swannie, dit werk so. Dis mos nie elke verdomde taxi wat in jou gaan vasry as jy dit by jou huis uit waag nie?” Hy sê hy verstaan, maar hy dink nog steeds ek is mal.
Ons duik al baie jare. Hier in die middel 1980’s was dit ek en my broer Deon, toe kom Vincent by en later was daar nog ‘n Flippie ook. Dit het so begin: Ons trek Kaap toe vanaf Johannesburg. Dit opsigself is ‘n storie op sy eie, want pap-vreters wat in die Kaap aankom en praat van “êk val op my bêk vanaf die hêk”, was vir dié klompie wynvlieë net heeltemal een te veel. Maar kom ons los nou eers die nimmer eindigende gestryery tussen die Valies en die Kapies net eers daar – niemand gaan tog wen nie.
In die Kaap aangekom, gaan koop ons visstokke. Ek onthou hoe ek en my Pa Ryk en my broer Deon een oggend 4:00 Valsbaai toe is. Nie lekker seker waar dit was nie, maar dit moes daar naby die strand êrens gewees het. Die jettie wat die see inloop kan ek nog onthou, maar van visvang, was daar nie sprake nie. Dis net daar wat ek die verskil tussen visvang en hengel geleer het. Ek het gehengel en my broer Deon het visgevang. Hengel werk so; eers sukkel jy jou vrek om die lyn deur die ogies te kry. Jy maak een of ander knoop aan die ander kant en haak ‘n stuk aas daaraan. My bebloede vinger wat die hoek beetgekry het, word sommer met ‘n stuk toilet papier toegedraai. Na die derde keer wat die sinker jou byna disnis klap, skree Pa deur die Suid-Oos iets van “klap die katrol oor, het jy nie gehoor nie”. Ek klap oor en gooi; die spulletjie trek in drie rigtings. Dis ‘n bondel aas met Tafelberg teen die agtergrond, ‘n sinker met Gordonsbaai se Anker as raamwerk en ‘n frommel lyn wat die opkomende son se oranje lig in Simonstad se rigting verfraai. So na die vierde keer kry ek die spulletjie in die water en dis nie lank nie dan moet jy weer laai. Nee wat, dis nie my tipe ding die nie. Ek weet dis nie ek nie; ek is mos eerder ‘n “groei-vlerke-so-in-die-val” mens.
Ons beste vangs was een skool vakansie by Kalkbaai. Ek en Deon het gratis trein gery, want Pa Ryk was op die Spoorweë. Ons het by De Grendel opgeklim en moes by die hoofstasie in die Kaap oorklim om die trein Simonstad toe te vat. Daai jare was die trein nog vol mense, die stasie het gewemel van menere en mevroue op pad stad se kantore toe. Dink jouself in – ons met ons 18 voet visstokke op ‘n trein en dan storm ons met daai stokke tussen die mense deur... Kalkbaai se hawemuur was nie ver van die stasie af nie; ‘n lekker plek om te hengel daai. Ek weet nie of die waarheid al uit gekom het nie, maar Ma Erna weet tot vandag toe niks van die vis wat gekoop is en toe ingekleur is as ‘n goeie vangs vir die dag nie.
Daai Kalkbaai trippie was omtrent een van die laastes, want toe hoor ons van vis-skiet. Van duiktoerusting en waitbelde, van flippers en snorkels en booties en ‘n float en rek- en geweer lengte en asem haal en equalize en spoeg in die bril om die wasem uit te hou, het ons sommer gou geleer. En dan was daar die donker manne, die belasting gaarder, die duikboot; noem dit net wat jy wil, maar een woord gebruik jy nooit nie. Dis slegte geluk, want net nou daag hy op.
Ek weet nie of dit geluk was, of net die verkeerde dag op die verkeerde tyd, of wat nie, maar dit moes seker ons bewaar engele gewees het wat oortyd gewerk het. Maar nooit, nie een keer het ons hulle raak geswem nie. Dis lang jare voor cage-diving en Discovery se Shark Week en van Dassen- en Rob Eiland se brekers wat Robbe met ‘n angswekkende vaart van diep onder in die blou bekruip het dat jy net bloed, velle en hare sien waai het.
Maar hulle was daar. Vishoek strand se Jaggers Wandelpad was ons gunsteling duikplek. Dis mos hier waar die tannie met die rooi kostuum later jare net spoorloos verdwyn het. Dis mos hier waar die spotters teen die berghang die salig onbewuste swemmers onder in die baai moet waarsku met hulle swart vlag. Hulle was daar en ons was ook daar.
Net so een keer het ons hulle skrams raakgeloop, die belasting gaarder met sy skerp tanne. Ek dink dit was daar naby Kaappunt. Yskoud en met blou lippe is ons op pad uit. Alikreukels en perlemoene is boep-pens in die sakke gelaai. Van nêrens af was hy daar. Ek weet nou nog nie wie die grootste geskrik het nie, maar met een sluk vat ek ‘n groot hap seewater en omtrent driekwart van my snorkel toe die Groot Wit streep grasieus verby drentel. Deon se wit gelaat het niks te doen gehad met sy blonde hare nie.
Levyno wil ook leer vis-skiet. Ek en Anton gee hom so ‘n vinnige paar instruksies. “Maar wat van die tande-manne?”, wil hy weet. “Nee man”, stel ek hom gerus. “In die 40 jaar wat ek al duik het hulle nog nooit gepla nie”. En hier van die kantlyn af gooi Anton ook iets in van “in die ganse geskiedenis van Nieu-Seeland, is geen duiker nog ooit aangeval nie”. En dan wil Levyno weer weet, “maar wat as...” en dan verduidelik ek hom van die float en die vis wat jy nie by jou moet dra nie en dat ons naby die kant is en...” Maar ek kan sommer sien hy is glad nie oortuig deur al die slim stories nie.
Ons glip daar by Whalebay in die water in. Dis Gesinsdag, 26 Desember en die gesinne wag vir ons op die strand. Die water is helder blou en die sonlig maak sulke mooi strepe voor my diep in die blou water in. Ek loer so nou en dan waar Anton en Levyno is. Levyno is soos ‘n skaduwee op Anton se hakke. Van hier af sien ek die man loer darem heeltemal te veel kant toe. So elke nou en dan tel hy sy kop op, maak bril skoon, spoel sy mond uit, trap water. Dis duidelik dié man is nie die spulletjie gewoond nie.
Ek skiet my eerste vis, nogal ‘n John Dory en sit hom op my float-lyn. So paar 100 meter verder kry ‘n mooi vis ‘n kop-skoot en dis net hier waar die moeilikheid begin. Ek het nie geweet dat een vis so ‘n klomp bloed kan afgee nie. Ek druk die vlekvrye pen deur sy kiewe en laat hom op die float-lyn afgly om so gou as moontlik van my af weg te kom. Ek laai gou weer, want hier is nou baie vis.
Wat gaan aan met die opblaas drywer wat so 20 meter agter my aansleep?, wonder ek. Haak die ding dan nou aan ‘n rots vas of wat? Ek gee die lyn so ‘n pluk of twee net om seker te maak die drywer haak nie vas nie. Die volgende oomblik voel dit asof iemand my met ‘n reuse hand uit die water uitpluk toe my pylgeweer met mag en mening rond geruk word. Ek kyk op om net betyds in die verte te sien hoe my helder oranje drywer met ‘n boog deur die lig trek. Die water spat en borrel en bruis en iets van daai beelde wat ek op TV gesien het, flits deur my kop. In ‘n oomblik dink ek aan Deon en Flippie en Vincent. Ek sien hoe die taxi Swannie se kar in Brakpan se pan instamp en wonder of my mooi verduideliking nog enigsins sal help. Ek dink aan die Gesinne op die strand en aan Annette en die kinders en my beloftes om nooit weer alleen te duik nie. Ek meet die afstand rotse toe en ek soek vir Anton en Levyno tussen die deinings deur. My lang vinne verander in Jetski aandrywing en toe ek so by die manne verby bruis, kry ek dit darem uit: “Haai daar...”
Ons sit op die rotse. Dit was Levyno se eerste duik en ek verduidelik. Hy wil niks weet nie. Anton vertel, maar die man gee nie in nie. Ek gee ‘n opsomming van my laaste 30 plus jaar se duike, maar Levyno stel nie belang nie. Sy wit bleek frons vertel ‘n ander verhaal. Al wat hy hoor is “Haai daar...” en met ‘n besliste “nee”, laat hy ons goed verstaan dit was sy eerste en laaste keer. Dalk is Swannie reg as hy voet by stuk hou met: “Jy is mal man.”



Comments