top of page

Fietsry en die Storm

  • Marcel Versfeld
  • Feb 22, 2022
  • 5 min read


ree

(Deur Marcel Versfeld

Februarie 2022 )


Anne-Marie en Susan en hulle boetie Johan, het langs die brug gebly. Dit was dié kant van die spoorlyn. Dié kant, want ander kant...jy weet mos.


Met my swart dikwiel fiets het ek elke dag daar verby gery. Dit was een van daai swart backpedals met ‘n leer-saal sonder modderskerm dikwiel fietse. Backpedals, want jy kon skerp briek om seker te maak jy maak ‘n lekker broady. Hand brieke was uit, want hand brieke werk nie vir broadies nie. Backpedals was in. Swart dikwiel was in – daar was niks om te rattle en niks om af te val nie.

Ek het spesiaal die kort pad tussen die brug en die rugby klub se heining deur gery, want dalk is my timing net reg om by haar verby te ry. En wraggies, daar stap sy. Ek stop en vra: “Kan ek jou lift?” “Nee dankie, ek stap liewer”, het sy altyd geantwoord.


Dan was daar Benna Kellerman. Hy was ons scrummie. As dit gereën het, het ek nie die kortpad by die treinbrug verby gevat nie. Te veel water, te nat, te glyerig daar langs die treinbrug verby. Die langpad het verby Benna se huis gery. Benna het oorkant die Trimpark gebly. Ek moes Benna lift, want Benna en Helmut was pelle. Vir Helmut sê mens nie “nee” nie. Ook nie vir Helmut se pelle nie. Benna en Helmut was pelle en as Benna gesê het “lift my Flappies”, dan lift jy, want Helmut se van was Swart. Flappies was my bynaam op skool, om “beter te kan hoor my kind”.


Ek onthou hoe Helmut in st. 6 ‘n matriek laaitie gedrop het. Dit was daar agter die houtwerk klasse by die ou skool. Dinge gebeur mos altyd by die houtwerk klasse. Daai jare het hulle nog ontgroen. Die matriek het nog mooi vir Helmut verduidelik dat hy net ‘n st. Sessie is; ek dink hulle het ons daai jaar “Knoffel Koppe” genoem. Ons het op die toutrek span se hout stellasie gesit en die spulletjie dophou. Die Matriek Grootkop was nog so besig om te verduidelik hoe Helmut ‘n Knoffel

Kop is, toe lê hy. Dit was ‘n kort regter stich. Niemand het met Helmut gesukkel nie. Helmut was in elk geval nie lank in Tygerberg Hoër nie. Ons het nuwe skool toe getrek en so hier by st. 8 het hulle hom geskors. Ek dink mnr. Van Wyk, ons skoolhoof, was ook bang vir Helmut. O ja, Helmut Swart het net drie vingers aan sy regterhand gehad. “Hoe het dit gebeur Helmut”, het ek met groot respek dit gewaag om te vra. “Dit was die windpomp op my oom se plot”, het Helmut saam met ‘n paar kragtige vier letter woorde verduidelik. Ek het nie verder gevra nie. Die bloedige detail kon ek self inkleur.


“Klim op dan lift ek jou”, skraap ek weer al my moed bymekaar. Maar nee, Anne-Marie stap en ek stap saam. Dis so ‘n kilometer dan is ons by die skool. Ons stop altyd eers verby Gené Rix, ‘n blok van die skool af. Gené en Anne-Marie en Jakkals en Riaan en Fanus en ek en die Van der Watt’s en Kobus en Petrus en nog 30 ander het die kerk ander kant die spoor se Jeugvereniging bygewoon. Dawid, dis nou Jakkals, en Riaan en ek het fiets gery. Riaan kon fietsry; ek en Jakkals het probeer fiets ry. Riaan het die Argus gery. My dikwiel kon nie die Argus ry nie en Jakkals se bene was te kort vir fietsry. Riaan het kuite gehad en ‘n fietsry broek en ‘n resies fiets - dit was nie ‘n swart dikwiel fiets nie. Fietsry was so lekker vir hom, dat hy nog koerante ook afgelewer het daar in die omgewing van De Villiers straat, Parow Vallei.


Sondae middae het ons fiets gery. Dit was nie om fiets te ry nie. Dit was om vir die meisies te gaan kuier. Ons drie, Jakkals en Riaan en ek, ry saam, want saam is makliker. Ek het Jakkals gaan wys waar sy bly, daar langs die brug. Jakkals het hard probeer, maar sy wou niks weet nie. Hy het blomme aangery, kaartjies geskryf, mooi gevra en weer fiets gery, al die pad van Goodwood af, maar sy wou niks weet nie.


Kom ek verduidelik net mooi van fietsry in Parow, van fietsry in die Kaap. Riaan het ook fiets gery; Riaan kon fiets ry en dis ook maar goed, want Ilse het in Kuilsrivier gebly. Ek weet nie hoekom mense fietsry in die Kaap nie. Net mense met kuite soos Riaan s’n ry fiets in die Kaap. Vir my was fietsry net om by die skool te kom en klaar. Op skooldae het my wekker twintig oor ses afgegaan. My tydsberekening was tot op die sekonde uitgewerk. Tien minute vir stort en tandeborsel en aantrek. Nou is dit al half sewe. Tien minute vir eet; ‘n groot bord pap met baie melk. Koffie met presies drie skaapwagter snye brood.


Presies drie snye, want met die vierde sny was die koffie op. Nou is dit twintig voor sewe. Daar is net tien minute oor om gou huiswerk te doen en my skooltas te pak. Daar is nie plek vir ekstra boeke skool toe nie, want ek moet fietsry. Dis nou tien voor sewe en die skool begin half agt.

Dis winter, dis donker en dit reën in die Kaap. Ek trek my reënjas aan;

‘n broekpak oor die skoolklere en begin trap. Die fiets lig wat met ‘n dynamo krag opwek, skuur teen die voorwiel met so ‘n sing geluid. Gelukkig is dit die Noord-Wes wat waai, so ek ry saam met die wind skool toe. Opdraande skyn die liggie maar flou, want die dynamo draai nie vinnig genoeg nie. Afdraandes lyk die lig soos die Transkaroo se hooflig deur die Hexrivier vallei op pad Noorde toe.


Die Noord-Wes waai en ‘n kouefront is op pad. Dit reën, dis donker en ek trap my longe flou teen die bult op. Gelukkig vat Benna se ma hom vandag skool toe en ek hoef hom nie te lift nie. Ek staan en hyg aan die bo punt van De Grendel weg. Nog net oor McTyre en dan die afdraande tot by die sirkel. Dan links en ‘n paar honderd meter tot by die skool. Ek lê links teen die Noord-Wes om regop te bly en daar, in die middel van McTyre, net oor die verkeerslig, haal die Noord-Wes net vir ‘n oomblik asem. Net ‘n oomblik genoeg om my soos Loop-en-valMotcheratu (wie kan hom onthou?) te laat neerslaan. Ek swets en wens ek het sulke dik kuite soos Riaan gehad. Ek haat fietsry.


Dis MTM interskole atletiek en ons sit op die paviljoen. JG Meiring sit die jaar oorkant die wegspring plek, DF Malan in die Middel en Tygerberg sit by die wenpaal op Coetzenburg Stadion. Dis hoendervleis mooi toe die atlete met Rocky se Eye of The Tiger op die veld stap. Ons dreun sang met “Bring vir die Tiere-Span vandag...” en “Ons is, ons is weet julle wie. Ons is ons is, kan julle raai...” Almal in die skool het altyd gesê sy het die mooiste bene. Ek dink hulle was reg. Dis die meisies onder sestien tagtig meter hekkies item wat aangekondig word. Jakkals sit daar by die wegspring se kant met ‘n blou en geel en wit streep baadjie van JG Meiring. Ek sit aan die wenpaal kant met ‘n groen en geel en wit streep baadjie van Tygerberg. Die skoot klap en Anne-Marie storm wenpaal toe. Die mooi lang bene seil oor die hekkies.


Die sekondes tik en ek dink aan fiets trap agter die meisies aan. Dankie tog - boetie Johan het die dikwiel gekoop. Die sekondes tik en Riaan se trap het Ilse in Kuilsrivier gewen. Die sekondes tik en Anne-Marie Storm...nog net een laaste hekkie. Jakkals het die lang mooi bene gewen.


______________________

____________

Recent Posts

See All
Afrikaans en Engels

As my “airtime” opraak Deur Marcel Versfeld Afrikaans en Engels werk nie altyd lekker saam nie. Ons Afrikaners probeer regtig hard om die...

 
 
 

Comments


worXinu white.png

© 2023 by Michelle Hugo. Proudly created with Wix.com

bottom of page