Die Prins, die Joernalis en die Ski-lift
- Marcel Versfeld
- Aug 5, 2019
- 5 min read
Updated: Jul 12, 2021

‘n Skewe kyk van die Engels Lady oor die reëlings van die ski-oord na waar ek en Etienne verwronge in die sneeu lê, som die dag van chaos goed op.
Dis 1989 en êrens in Ankara, die hoofstad van Turkye, wens ons die bus wil vertrek. “In my lewe nog nie soveel mense gesien nie”, dink ek. Om die tyd om te kry, hou ons toe ons lywe joernalis en kamera-man. Etienne is agter die kamera en ek voer onderhoude as CNN joernalis. Sommer gou het ons ‘n skare nuuskieriges wat saamdrom en al hoe ons van hulle ontslae kon raak, is om op die bus te spring wat wegtrek na Bursa, Turkye se ski-oord.
Die bus-kneg (iemand soos die helpers op ons SA taxi’s wat kliënte se geld invorder) behandel ons soos koninklikes. Ek het die ou laat verstaan dat ek die lyfwag is en die blonde-kop Etienne is die Prins van Monaco. Hy het dit sommer gou vir soet koek opgevreet, want in Turkye is blonde koppe so goed soos ‘n R5 muntstuk in Bloedstraat Pretoria. Turkse tee word in liters vir ons aangedra. “As ek nou nog een koppie Turkish-Tea kry, bars my blaas”, proes die blonde Prins van Monaco dit uit.
In ‘n wasige poging om te slaap, blits die aanwysing dat ons naby Bursa is, in die blink van die bus venster buite verby. Dis omtrent 4 vm en die bus-kneg maak seker dat sy koninklike passasiers nie die afklim mis nie. “Het jy die kamera sak?”, was die laaste woorde wat die blonde “Prins” kon uitkry, voordat sy rooskleurige vel omtrent net so wit soos sy hare geword het.
Ek probeer nog antwoord, toe storm hy al op die naaste taxi af. Dis meer iets van ‘n spin soos ‘n Danville drie liter warm gemaakte Ford Sierra in Voortrekker weg, as ‘n vinnige hardloop op die ysbedekte teerpad. Soos ‘n toeskouer wat alles in ekstra stadige visie sien, speel die toneel voor my af. Die taxi eienaar lê niks vermoedend met skeef verrekte wange snoesig teen die deurruit van sy inkomstebron en slaap. Buitekant, in stikdonker nag op ‘n yslaag teerpad, kom die Prins van Monaco met swaaiende arms al gillende aangestorm. “Taxi, taxi, taxi”, hoor ek hom nog bloedstollend gil.
Van waar ek so 30 meter weg die spulletjie dophou, weet ek dit gaan nie werk nie. Die Prins se ABS brieke werk nie op die yslaag nie. So halflyf onder die pens van die taxi in, kry hy darem die voordeur se handvatsel beet. Die deur ruk oop en meneer taxi bestuurder se skewe wang word nog so ‘n paar sentimeters langer teen die ruit gesleep toe hy begin uitval. Al wat in die taxi agterbly, is die bestuurder se spoegstreep teen die ruit. Die Prins besef dat die man diep slaap en slaan met alle mag die deur weer toe. Met die slag van Os du Randt op pad doellyn toe, tref die deur hom so met die uitval. Halflyf onder die taxi in, kom die Prins met ‘n glybeweging weer regop, op soek na ‘n wakker taxi drywer. Taxi drywer nommer 1 wonder seker nou nog wat hom in die vroeë oggend ure van daai Desember in ’89 getref het.
Met die kamerasak styf teen my sy, vat ons die sweefspoor hoog die berge bokant Bursa in. Ons voel soos klein seuntjies wat gaan kleilat speel oor die ski ervaring wat voorlê. Die flinke optrede van een van Turkye se miljoene polisiemanne, wat die bus ingejaag en die kamera terug besorg het, is gou vergete.
Twee meter lange ski’s aan my voete laat my wonder hoe ‘n psigiatrie pasiënt met ‘n strait-jacket aan in Weskoppies voel? Daar’s nie geld vir ‘n instrukteur nie. Ons vat sommer ons eie oefenlopies hier voor die ski-oord se patio. Die paar Engelse Ladies wat ons so deur hulle krul-vingertjies oor ‘n teekoppie beloer, het seker geweet hier kom moeilikheid.
“Dis nou genoeg geoefen. Kom ons bestyg die ski-helling”, moedig ek vir Etienne aan. So skuifel, skuifel en met ‘n onbehendige plof kry ons ons strait-jacket lywe op ‘n ski-lift mandjie wat die twee kilometer of wat teen die berg op wentel. Etienne klink al klaar soos ‘n laaitie wat te veel kleibolle teen die kop gekry het toe hy vra: “En hoe dink jy kom ons van die ding af?” Ek onthou weer wat oom Lang-Karel gesê het van vlerke wat ontwikkel so in die val na onder, toe ek hom antwoord: “Hou net die ouens voor ons dop”.
Gelukkig was ek aan die buitekant van die kontrepsie. Met ‘n behendige opwip maak ek dit toe om af te wip toe ons die draai vang. Binne sekondes hoor ek alarms, sien ek flitsende ligte en assistente wat nader storm. So oor my skouer, op die randjie van die aller verskriklikste helling, kyk en terug. Etienne het met die afwip slag die rand van die sagte sneeu raak getrap en aan die binnekant van die ski-lift mandjie baan ingeval. Hy hang vir lewe en dood aan een van die maste. Die hele sisteem kom tot stilstand sodat die reddingspoging kan plaasvind.
Bedrewe skiërs glip langs ons verby waar ons aan die bokant van die “Masters Slope” staan. Die helling aan ons voete laat selfs my vlerke wat nog moet ontwikkel bewe. “Hier’s die plan”, beduie ek vir Etienne. “Sien jy daai bergpaadjie so 300 meter onder toe aan die regter kant? Al wat ons moet doen is om hier af te gaan en dan weer daar te probeer in ski teen die opdraande op.” “Hoekom dan weer daar in en teen die opdraande op?”, vra hy. “Want ek het geen idee hoe om te stop as ons eers aan die gang is nie”, antwoord ek.
Ek glip oor die rand van die helling en sommer gou suis die wind deur my hare. Dis ‘n angswekkende beneweling soos wat ek teen die spoed van lig teen die helling af blits. “Vlerke oom Karel, vlerke! Waar’s die vlerke?”, dink ek en wens dat ek liewer gaan kleilat speel het. In die trilling van wind en spoed hou ek darem nog die bergpaadjie dop waar ek moet in gly. Wat weet die boerseun van die Vrystaat van ski hellings wat geskraap word om van die dik sagte sneeu ontslae te raak? Ek voel soos een van daai Disney karakters toe ek halflyf kop eerste die sagte dik sneeu inploeg. Ek kom bewende met ‘n gesukkel orent. Die dekselse twee meter lange ski wat my so ‘n strait-jacket gevoel gee, maak dit glad nie maklik nie.
Met ‘n gesukkel om die sneeu en denne naalde uit my oë en ore te kry, kyk ek terug teen die helling op. In die sneeu stuif wat teen die helling afkom, herken ek iets blou in die wawiel mallemeule van Etienne se baadjie. Hy moes seker so tien of wat meter van bo af dit al verloor het, want hier 100 meter van my af, is dit net ore, en klere, en ski’s, en gille en sneeu waar jy kyk.
Op een of ander wonderbaarlike manier is albei van ons nog in een stuk. Doer ver, onder in die vallei, heeltemal te ver van waar ons is, stippel die Ski oord. Die terugtog daarheen is ‘n afwisseling van pret, pyn en lyding. ‘n Ervare instrukteur ontknoop my strait-jacket ski’s tussen twee dennebome uit en help my terug op die glad geskraapte helling. “Did you have some training before atempting this slope?”, vra sy vermakerig. “Yes sure”, antwoord ek met flenters vlerke wat net nie lekker wil ontwikkel nie in my kop.
“Nog net ‘n honderd of wat meter van die HEL-ling wat oorbly”, dink ek toe die Ski Oord met sy houtreëling en Engelse Ladies heeltemal te vinnig nader kom. Ons weet nog steeds nie hoe om die spulletjie te stop nie en al wat werk is om agter oor te val. Ons kom met ‘n gekletter van hout teen die reëlings van die Ski Oord se tee-drink dek tot stilstand.
Ek verbeel my die Engelse Lady het oor haar teekoppie geloer, maar ek is nie seker nie. Het seker dadelik geweet ons het nie blou-bloed in ons are nie.



Comments