top of page

Bye Boer, ‘n Bakkie en kat koop...

  • Marcel Versfeld
  • Dec 22, 2022
  • 5 min read

Updated: Jul 4, 2023

Deur Marcel Versfeld

Desember 2022


Carike sing iets van 1891, toe die Byeboer uit die bed op staan. Maar dis 2022, dis donker, dit reën en daar is bye in die kar. “Hulle loop op die sitplek Pa. Ek kan hulle sien. As een my steek, koop Pappa vir my ‘n kat”, hoor ek die dreigement. En van kat-koop wou ek nou al vir amper 30 jaar niks weet nie.


“Kalmeer net Michelle. Ons is nie meer ver nie”, probeer ek paai en toe kom ons om die draai met die vernouing voor in die pad. Dis net noodligte en mense en flitse. Wat dan nou?

My nuutste stokperdjie is ‘n maand of twee oud – bye. “So, hoeveel heuning kan ons verwag”, vra my vriende so ‘n week of drie terug. “Man, julle sal moet wag. Ek het broei kaste, ek het ‘n byepak, ek het ‘n roker, ‘n borsel en raampies”, probeer ek verduidelik. “Nou wat is dan die probleem?”, wil almal weet. “Dis eenvoudig, ek kort bye”, sê ek.


Ek doen oral navraag. “Dis dan bye-tyd en hoekom moet ek honderde dollars vir bye betaal as hulle vrylik beskikbaar is”, dink ek so in my stilligheid. My Nig daar uit verre Afrika laat weet: “Verf net jou kaste uit met byewas en sit ‘n paar druppels lemongrass oil uit. Dit sal hulle sommer gou laat intrek”. Julle verstaan nie. Hier by ons in Nieu Seeland was November amper Noag-tyd. G’n by trek nêrens heen nie. Inteendeel, mense ruil hulle karre in vir rubberbote, want die hemelsluise het oopgegaan. In plaas van die normale 70mm vir November, val oor die 350mm se reën en g’n by nêrens in ons geweste het lus vir trek nie.


Ek laai toe maar die twee gewaxde kaste met hulle lemongras oil en ry oor na Shane toe. Hy het oor die 80 swerms. Dit klink vir my baie makliker en ek voel sommer so aan my lyf hoe die vlerke so met die val grond toe groei. Bye skuif kan mos sekerlik nie so moeilike wees nie, of hoe?

Michelle, my dogter, beter net saam gaan, want alleen gaan ek nie regkom nie. Sy kry so ‘n witterige skynsel op haar gelaat en met ‘n frons herinner sy my aan die 25 perdeby steke. “O ja, siestog, nou onthou ek”, val dit my by (😊). “Ja, en ek het uit die boom uit in die rivier geval toe hulle my takel. En Pappa wil hê ek moet saamgaan om te wat?”, kap sy terug. Die bloedstollende gille van my blonde koppie daar langs die spruit uit die boom, is lewenslank in ons almal se geheue ingeëts, al was dit al amper 20 jaar gelede.


Nietemin klim sy in en gaan saam. Die son is amper onder, want dis mos maklik om bye te skuif as dit donker is, sê dié wat weet. Die eerste kas se oorskuif gaan sommer gou en maklik. Al 30 000 bytjies werk mooi saam en ons sit die kas neer om te kalmeer, terwyl ons nommer twee aanpak. Dié 30 000 wil nie so lekker saamwerk nie en dit dreun en zoooooom daar binne in die nuwe blou broeiboks. Die opening is mooi met gras toegestop en ons laai. Dis donker en ons moet ry.

“Stadig om die draaie. Moenie deur die knikke in die grondpad ry nie. Pas op! Kyk daarvoor!” en met nog ‘n paar 100 waarskuwings kry ek bestuurslesse wat een na die ander uitrol. Ek is verstom dat die stille Michelle skielik so baie kan praat. Uiteindelik is ons op die teerpad en dit gaan bietjie makliker. Nog net so ‘n 20 minute dan is ons by die aflaai plek. “Onthou, as een my steek, koop Pappa vir my ‘n kat”, word ek gereeld herinner.


En daar, om die draai en voor by die vernouing in die pad, moet ons stop. Die enkelbaanbruggie voor in die pad is verstop. Dit begin reën en in die kar begin die bye dreun. “Wat gaan aan?”, wonder ons albei en klim uit om ondersoek in te stel. Jou werklik waar, ‘n bakkie wat van voor af aankom en wat moes stop, het probeer deurdruk en is lekker styf tussen die karretjie op die brug en die staal reëlings ingewig. Ek ruik die bier en weet sommer waar die spulletjie fout gegaan het. Nou sit ek met ‘n bier-bakkie, bye wat zoem, blitse reën en ‘n dreigende kat koperige dogter wat dreig om die spulletjie lekker deurmekaar te maak... “Waar is die vlerke nou?”, brom ek onderlangs.


Die Kiwi’s vat gelukkig nie nonsens nie en gou word ‘n 4X4 ingespan om die bier-bakkie te ontwig. Intussen het die karre begin ophoop en mense raak haastig. “Nee, julle verstaan nie”, is ek baie gou aan die verduidelik. “Ek sit met ‘n kar vol bye en ‘n dogter wat dreig om ‘n kat te koop. Laat my deur”, pleit ek. Dit lyk soos die spreekwoordelike Rooisee wat voor my oopgaan en daar verdwyn die bier-bakkie in die truspieëltjie.


Dis nog so 15 minute se ry en, Michelle hier langs my, hou die paar bye wat uit die bloukas ontsnap het, dop. “Hulle sit op die bank agter ons se rugleuning Pappa”, waarsku sy. En dan 3 minute later: “Hulle begin nou rondloop Pappa” en dan weer ‘n minuut later: “Daar is nou ‘n hele paar uit die bloukas uit Pappa”. En dan weer ‘n minuut later: “Onthou, ek klim in die ry uit”, op ‘n heelwat hoër stemtoon as vroeër.


Toe ‘n by hier skuins teen my kop vasvlieg en tussen my bene afduik vloer toe, besluit ek ook dis nou genoeg. Ek trek sommer by die eerste donker paadjie in. Dis deure oop, dis ligte aan, dis ‘n gesoek en ‘n geskarrel... Ek gryp hulle so een-een met my boshoed en skud hulle uit die kar uit. “Hier is nog ene en daar kruip een onder die bank in”, herinner Michelle my. Ek gryp hier en druk daar met die boshoed om almal uit die kar te probeer kry. Ons is besig om te wen en daar is net ‘n paartjies oor. Terug in die kar: “Daar, op die dakliggie, net bo die ruit, sit nog ene”, waarsku sy. Ook die enetjie word met die boshoed gegryp en vinnig afgelaai.


Ons klim terug in die kar en met ons adrenalien gelaaide lywe besluit ons dis nou of nooit. Druk deur en ry om die bye afgelaai te kry – dis al wat nou saak maak. Ek is so deurmekaar van die vinnig stop dat ek skoon in die verkeerde rigting aanry. ‘n Vinnige U-draai kry ons weer op koers.

Dis donkernag en van Byeboer wat uit die bed opstaan, is daar geen sprake nie. 1891 is lank vergete en van saamsing wil ek nou niks weet nie. Dié spulletjie moet nou afgelaai word. Alles gebeur so half gelyk by die aflaai-plek. Deure gaan oop, ons klim uit en die twee bye kaste van 35 kg of meer word soos blits in die donkernag uitgedra - reguit staanplek toe.


Bye, bakkies, bier en ‘n dreigement om ‘n kat te koop groei vinnig vlerke, of hoe?


ree

Recent Posts

See All
Afrikaans en Engels

As my “airtime” opraak Deur Marcel Versfeld Afrikaans en Engels werk nie altyd lekker saam nie. Ons Afrikaners probeer regtig hard om die...

 
 
 

Comments


worXinu white.png

© 2023 by Michelle Hugo. Proudly created with Wix.com

bottom of page