Ai jai jai !
- Marcel Versfeld
- Jan 6, 2021
- 3 min read
“Op of af?”, dink ek. Eintlik is daar nie eers tyd vir dink nie, want hier kom die Prado. Dis nou of nooit…
Ek staan voor die val-hek en klim lui lui uit om die paal op te lig. “Ai jai jai, waar is die klonkie om sy 50c te verdien”, wens ek. Die paal lig sommer maklik op en ek draai terug om in te klim.
“Nee!”, gil dit in my kop, Hier kom my kar dan nou geduldig gedienstig gedwee aan en daar is nie eers stowwe nie. Dis tyd vir vinnig dink, want ek sien hier kom moeilikheid. Dis verstommend hoe ‘n hele fliek in jou kop afspeel in so ‘n breek deel van ‘n sekonde.
Moet ek die paal lig en dan agterna hardloop, of moet ek die paal laat sak om die kar te stop? Op of af, sak of lig…? Laat sak ek die paal, dan sien ek al hoe die ruit uitgedruk word. Lig ek die paal, dan moet ek maar agterna hardloop, deur die oop voorruit duik en die handrem optrek. Op of af…?
Nou raak die tyd sommer baie min. En die fliek (klik hier om die snit te sien) speel in my kop. Die vrou verskrikte Marius Weyers ry met sy Land Rover om die nuwe skooljuffrou op die dorp te gaan haal. Die Land Rover se handrem werk lankal nie meer nie. Hy spring uit en die tjorretjie luier luier so deur die hek. Hy maak die valhek toe en hardloop die kar in om sommer so in die ry weer in te spring.
Met die terugkom is dit nie so maklik nie. Hoekom nie? Want ‘n vrou, die skool juffrou (gespeel deur Sandra Prinsloo) is by. Niks is maklik as ‘n vrou by is nie, want dis nie net ‘n vrou wat by kom nie. Nee, dis ‘n man se ego wat mos nou ook uitklim en die hele spulletjie deurmekaar krap. Die dat my vrou Annette nie meer kom kyk as ek muurbal speel nie. Alles loop reg, altyd reg, tot sy opdaag dan slaan ek mis, my “timing” is uit en my krag te veel en (kom ons los dit liewer daar).
Hulle ry stadiger by die valhek en so in die ry spring hy uit en maak die hek oop dat Juffrou en die Landy kan deur glip. Hy maak die hek toe en draai om, om weer so in die ry in te spring. Dié keer hardloop die Landy te vinnig en hy kry hom nie gevang nie. Met ‘n geskreeu en angs-waaiende arms skree die Juffrou om hulp. Hy draf skamerig agterna en wag, want hy weet die bultjie daar voor in die pad gaan die Landy terug stuur.

Ai, ek wens ek het tyd om die hele fliek klaar te kyk, maar hier kom die Prado. “Op of af, op of af?” Dis toe op met die val-hek se paal. Alles gebeur in sekondes, maar dit voel soos ‘n ewigheid. Die verskil tussen die fliek en die werklikheid is egter ‘n skokkende realiteit.
Hier is geen bultjie anderkant die hek nie. Dis net een geleidelike afdraande en ‘n ongemaklike draai met mooi steen kolomme wat die paadjie belyn. Soos Marius Weyers kry ek ‘n kreun van “ai jai jai” uit, toe die steen kolomme die regterkant van die Prado met ‘n gekraak en krap tot stilstand ruk. Jy ken daai gevoel van naels wat op die swartbord krap, van wanneer jy boomklim en die tak mistrap, van wanneer die kudu vol in die teleskoop pruik en jy knyp die sneller, maar die “safety” is nog aan.
Dis die gevoel van “ai jai jai”, as ek maar net die handrem opgetrek het. Dis baie makliker as om te kies tussen Op of Af?
Commenti