Pot-en-Deksel
- Marcel Versfeld
- Feb 28, 2021
- 1 min read
24 November 2020

“Ek is soos ’n breekbare kleipot… Tog dra ek ’n baie waardevolle skat hier binne-in my rond.”
2 Korintiërs 4:7
Die oumense het mos gesê: “Elke pot het ‘n deksel.” Vandag, 30 jaar gelede, het my deksel lekker knus en netjies in gepas.
My deksel ja, maar om te sê “ingepas”, of soul mates, nie heeltemal nie. Ons het geskuur, gestamp, gedruk, gemaal en sout geëet. Die Pottebakker het ons op die wiel gesit, gevorm en baie kluite, klonte en stukkies uit geknie.
Ek is lank, sy kort. Ek wil kuier, sy hou van bietjie eenkant wees. Blou is haar kleur, myne is oranje. Sy is kalm, ek so bietjie wild en grof. Ek ontwikkel vlerke so met die vlieg, sy beplan alles haarfyn. En so aan, en so aan… Want sien, ‘n pot se deksel moet mos pas.
Ek en my Deksel het saam gegroei, saam ontdek, saam getoets (SABS), saam baie sop gemaak, bredies gekook, vleis gebraai, koffie-water gekook en bene murg-sag gestoom.
Pot-en-Deksel is nou vyf waardevolle Kruike. Ons is dankbaar, tevrede en bewonder die stampe en stote wat die kruike so mooi karakter gegee het. Goud inleg het die letsels mooi gemaak. Ons het vorentoe gefaal en mooi gegroei. Ervaring maak van die Pot-en-Deksel draers van ‘n Skat met onmeetbare waarde.
Lig gerus die deksel so bietjie op en ruik die geur. Stamp en stoot die pot en voel hoe die Skat afvryf.
Saam is ons beter, saam beur ons vorentoe, boontoe en verder. Dankie my Deksel. Ek sê mos altyd “jy laat ons soveel beter lyk. Lief jou verby die getalle.
Comments